Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 3:10-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die Here.

11. Toe het die Here vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda.

12. Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die Here. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die Here; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie.

13. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die Here jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die Here.

14. Keer terug, o afkerige kinders, spreek die Here, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ’n stad en twee uit ’n geslag en sal julle in Sion bring.

15. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand.

16. En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die Here, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die Here nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie.

17. In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.

18. In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het.

19. Ék het wel gedink: o Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ’n kosbare land, ’n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 3