Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 21:3-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Toe het Jeremia vir hulle gesê: So moet julle vir Sedekía sê:

4. So spreek die Here, die God van Israel: Kyk, Ek laat die oorlogswapens terugdraai wat in julle hande is, waarmee julle oorlog voer buitekant die muur teen die koning van Babel en teen die Chaldeërs wat julle beleër; en Ek sal dit binne-in hierdie stad versamel.

5. En Ek self sal teen julle oorlog voer met ’n uitgestrekte hand en ’n sterke arm, ja, in toorn en in grimmigheid en in groot gramskap.

6. En Ek sal die inwoners van hierdie stad verslaan, die mense sowel as die vee — aan ’n groot pes sal hulle sterwe.

7. En daarna, spreek die Here, sal Ek Sedekía, die koning van Juda, en sy dienaars en die volk — die wat in hierdie stad oorgebly het van die pes, die swaard en die hongersnood — oorgee in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek; en hy sal hulle verslaan met die skerpte van die swaard; hy sal geen medelyde met hulle hê of hulle spaar of hom ontferm nie.

8. En aan hierdie volk moet jy sê: So spreek die Here: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood:

9. hy wat in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard of die hongersnood of die pes; maar hy wat uitgaan en oorloop na die Chaldeërs wat julle beleër, sal lewe, en sy lewe sal vir hom ’n buit wees.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 21