Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 17:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE sonde van Juda is geskrywe met ’n ystergriffel, met ’n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van julle altare —

2. telkens as hulle kinders aan hulle altare dink en aan hulle heilige boomstamme by die groen bome, op die hoë heuwels.

3. My berg in die veld, jou rykdom, al jou skatte sal Ek as buit gee saam met jou hoogtes, weens die sonde in jou hele grondgebied.

4. En jy sal uitval — en dit deur jouself — uit jou erfenis wat Ek jou gegee het, en Ek sal jou jou vyande laat dien in ’n land wat jy nie ken nie; want julle het ’n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand.

5. So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.

6. En hy sal wees soos ’n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ’n brakkerige en onbewoonde land.

7. Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is.

8. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.

9. Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

10. Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.

11. ’n Voël wat eiers uitbroei sonder dat hy dit gelê het, is hy wat rykdom verwerf maar nie eerlik nie; in die helfte van sy dae moet hy dit laat agterbly, en in sy einde sal hy ’n dwaas wees.

12. ’n Troon van heerlikheid, verhewe van die begin af, is die plek van ons heiligdom.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 17