Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 15:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Wee my, my moeder, dat u my gebaar het — ’n man van twis en ’n man van stryd vir die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie; almal vloek my.

11. Die Here het gesê: Waarlik, Ek bevry jou ten goede; waarlik, Ek maak dat die vyand jou ootmoedig smeek in tyd van onheil en in tyd van benoudheid.

12. Kan ’n mens yster breek, yster uit die noorde, en koper?

13. Jou rykdom en jou skatte sal Ek as buit gee, sonder betaling; en dit weens al jou sondes en in jou hele grondgebied.

14. En Ek sal jou jou vyande laat dien in ’n land wat jy nie ken nie; want ’n vuur is aangesteek in my toorn, oor julle sal dit brand.

15. o Here, U weet dit; dink aan my en besoek my, en wreek my op my vervolgers. Neem my in u lankmoedigheid nie weg nie. Weet dat ek smaad dra om U ontwil.

16. Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, Here, God van die leërskare!

17. Ek het nie gesit in ’n vergadering van spotters of was nie uitgelate nie; vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met grimmigheid vervul.

18. Waarom is my smart ewigdurend en my wond ongeneeslik? Dit weier om gesond te word. Sou U vir my waarlik wees soos ’n bedrieglike stroom, waters wat nie standhoudend is nie?

19. Daarom, so sê die Here: As jy terugkeer, sal Ek jou laat terugkeer, sal jy voor my aangesig staan; en as jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees. Laat húlle na jou terugkeer, maar jy moet nie na hulle terugkeer nie.

20. En Ek sal jou ’n onneembare kopermuur vir hierdie volk maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die Here.

21. En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose mense en jou verlos uit die vuis van die tiranne.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 15