Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 13:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. SO het die Here vir my gesê: Gaan koop vir jou ’n linnegord en bind dit om jou heupe; maar laat dit nie in die water kom nie.

2. En ek het die gord gekoop volgens die woord van die Here en dit om my heupe gebind.

3. Toe het die woord van die Here vir die tweede keer tot my gekom en gesê:

4. Neem die gord wat jy gekoop het, wat om jou heupe is, en maak klaar, gaan na die Eufraat en steek dit daar weg in ’n klipskeur.

5. Daarop het ek gegaan en dit weggesteek by die Eufraat, soos die Here my beveel het.

6. En ná verloop van baie dae het die Here vir my gesê: Maak klaar, gaan na die Eufraat en haal die gord daarvandaan wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.

7. Daarop het ek na die Eufraat gegaan en gegrawe en die gord geneem van die plek af waar ek dit weggesteek het; en kyk, die gord het bederf, dit was waardeloos.

8. Toe het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

9. So spreek die Here: So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is.

10. Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig — hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is.

11. Want soos die gord kleef aan die heupe van ’n man, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat klewe, spreek die Here, om vir My te wees ’n volk en ’n roem en ’n lof en ’n sieraad; maar hulle het nie geluister nie.

12. Sê verder aan hulle hierdie woord: So spreek die Here, die God van Israel: Elke kan word vol wyn gemaak. Dan sal hulle vir jou sê: Weet ons dit dan nie dat elke kan vol wyn gemaak word nie?

13. Maar jy moet vir hulle sê: So spreek die Here: Kyk, Ek vul met dronkenskap al die inwoners van hierdie land, selfs die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en die profete en al die inwoners van Jerusalem.

14. En Ek sal hulle verbrysel, die een teen die ander, die vaders en die kinders almal saam, spreek die Here. Ek sal nie spaar of verskoon of My ontferm nie, dat Ek hulle nie sou verdelg nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 13