Ou Testament

Nuwe Testament

Hoséa 1:3-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom ’n seun gebaar.

4. En die Here het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog ’n klein tydjie, dan sal Ek die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en ’n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel.

5. Ja, in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël.

6. Toe het sy weer swanger geword en ’n dogter gebaar; en Hy het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie.

7. Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die Here hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie.

8. Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en ’n seun gebaar.

9. En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie.

10. Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie — sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.

11. Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!

12. Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.

Lees volledige hoofstuk Hoséa 1