Ou Testament

Nuwe Testament

Hábakuk 1:7-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit.

8. En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe; en op ’n galop kom sy ruiters, ja, sy ruiters! Van ver kom hulle aangevlieg net soos ’n arend wat op sy prooi neerskiet!

9. Hulle kom almal om geweld te pleeg; die rigting van hulle gesigte is vorentoe, sodat hy gevangenes versamel soos sand.

10. Ook dryf hy die spot met konings, en vorste is vir hom ’n belagging; hy lag om elke vesting; hy hoop grond daarteen op en neem dit in.

11. Dan gly hy verby, ’n wind, en trek verder — maar word skuldig, hy wie se krag sy god is.

12. IS U dan nie uit die voortyd nie, o Here, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. Here, tot ’n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot ’n tugroede het U hom bestem!

13. U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie — waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?

14. So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie.

15. Hy trek hulle almal op met die hoek, sleep hulle in sy net en vergader hulle in sy seën; daarom is hy vrolik en juig.

16. Daarom offer hy aan sy net en laat rook opgaan vir sy seën; want deur hulle is sy aandeel vet en sy spys weelderig.

17. Sal hy daarom sy net uitskud en gedurigdeur nasies doodmaak sonder verskoning?

Lees volledige hoofstuk Hábakuk 1