Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 41:24-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.

25. Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.

26. Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde.

27. En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees.

28. Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien.

29. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;

30. maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer.

31. En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.

32. En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is — dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.

33. Laat Farao dan nou uitkyk na ’n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland.

34. Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland.

35. En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre.

Lees volledige hoofstuk Génesis 41