Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 41:13-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur — my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang.

14. Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.

15. Toe sê Farao vir Josef: Ek het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ’n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.

16. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao ’n gunstige antwoord gee.

17. Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl,

18. en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.

19. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie.

20. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet:

21. dié het in hulle maag ingegaan, maar ’n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword.

22. Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel.

23. En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was;

24. en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.

25. Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.

26. Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde.

27. En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees.

28. Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien.

29. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;

30. maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer.

31. En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.

32. En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is — dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.

33. Laat Farao dan nou uitkyk na ’n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland.

Lees volledige hoofstuk Génesis 41