Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 37:4-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.

5. Ook het Josef ’n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.

6. Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.

7. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop blý staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.

8. Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.

9. Daarna het hy nog ’n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ’n droom gehad — die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.

10. Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ’n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?

11. En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.

12. En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.

13. Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!

14. Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.

15. Daarop kry ’n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?

16. En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.

17. Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.

Lees volledige hoofstuk Génesis 37