Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 37:2-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers — hy was nog jonk — met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.

3. En Israel het Josef meer liefgehad as al sy seuns; want hy was vir hom ’n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ’n lang rok met moue gemaak.

4. Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.

5. Ook het Josef ’n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.

6. Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.

7. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop blý staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.

8. Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.

9. Daarna het hy nog ’n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ’n droom gehad — die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.

10. Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ’n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?

11. En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.

12. En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.

13. Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!

14. Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.

15. Daarop kry ’n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?

16. En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.

17. Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.

18. En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.

19. En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!

20. Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ’n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.

21. Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.

22. Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie — sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.

Lees volledige hoofstuk Génesis 37