Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 27:27-44 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die Here geseën het.

28. En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos.

29. Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.

30. Maar toe Isak Jakob klaar geseën het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af,

31. en hý maak ook ’n lekker ete en bring dit na sy vader en sê aan sy vader: Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan seën.

32. En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u eersgeborene.

33. Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën — ook sal hy geseënd bly!

34. Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met ’n baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën mý ook, my vader!

35. En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem.

36. Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?

37. Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jóú doen, my seun?

38. Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën mý ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.

39. Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo.

40. En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.

41. En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.

42. Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.

43. My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban,

44. en bly ’n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar,

Lees volledige hoofstuk Génesis 27