Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 26:4-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word;

5. omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.

6. So het Isak dan in Gerar gebly.

7. En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou — anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien.

8. En toe hy al ’n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou.

9. En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor!

10. En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ’n skuld oor ons gebring het!

11. Daarop gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word.

12. Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die Here het hom geseën.

13. En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was:

14. hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.

15. En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, dié het die Filistyne toegestop en met grond opgevul.

16. Toe sê Abiméleg vir Isak: Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig geword.

17. Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en daar bly woon.

18. En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het.

19. En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar ’n put met lewendige water.

Lees volledige hoofstuk Génesis 26