Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 26:15-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, dié het die Filistyne toegestop en met grond opgevul.

16. Toe sê Abiméleg vir Isak: Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig geword.

17. Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en daar bly woon.

18. En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het.

19. En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar ’n put met lewendige water.

20. En die herders van Gerar het getwis met die herders van Isak en gesê: Dit is óns water. Daarom het hy die put Esek genoem, omdat hulle met hom onenigheid gehad het.

21. Daarop grawe hulle ’n ander put, en daaroor het hulle ook getwis. Daarom het hy dit Sitna genoem.

22. Toe het hy vandaar versit en ’n ander put gegrawe, en daaroor is nie getwis nie. Daarom het hy dit Réhobot genoem en gesê: Ja, nou het die Here vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land.

23. Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba.

24. En die Here het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.

25. Toe bou hy daar ’n altaar, en hy het die Naam van die Here aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar ’n put gegrawe.

26. Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy leërowerste.

27. En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het?

28. Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die Here met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog ’n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons ’n verbond met jou sluit:

29. jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die Here.

30. Toe berei hy vir hulle ’n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink.

Lees volledige hoofstuk Génesis 26