Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 25:17-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En dit is die lewensjare van Ismael: honderd-sewen-en-dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.

18. En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.

19. EN dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.

20. En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het.

21. En Isak het die Here gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die Here het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.

22. En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die Here te raadpleeg.

23. En die Here het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.

24. En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ’n tweeling in haar skoot.

25. En die eerste is gebore — rooi, geheel en al soos ’n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.

26. En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.

27. En die seuns het opgegroei: Esau het ’n ervare jagter geword, ’n man van die veld; maar Jakob was ’n vredeliewende man wat in tente gewoon het.

Lees volledige hoofstuk Génesis 25