Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 24:19-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.

20. Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop om te skep en vir al sy kamele geskep.

21. En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die Here sy weg voorspoedig gemaak het of nie.

22. En toe die kamele genoeg gedrink het, neem die man ’n goue ring, ’n halfsikkel in gewig, en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in gewig.

23. En hy sê: Wie se dogter is jy? Vertel my tog. Is daar plek vir ons in die huis van jou vader om te vernag?

24. Toe antwoord sy hom: Ek is die dogter van Bétuel, die seun van Milka wat sy vir Nahor gebaar het.

25. Verder sê sy vir hom: Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek om te vernag.

26. Toe buig die man hom neer en aanbid die Here

27. met die woorde: Geloofd sy die Here, die God van Abraham, my heer, wat sy goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die Here het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.

28. Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar gebeur het.

29. En Rebekka het ’n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop na die man buite by die fontein.

30. Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek — het hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein,

31. en gesê: Kom in, geseënde van die Here! Waarom staan jy buitekant terwyl ek die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele?

32. En die man het in die huis ingekom — die kamele is afgesaal en vir die kamele is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was.

33. Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het gesê: Ek sal nie eet voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar.

Lees volledige hoofstuk Génesis 24