Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 24:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na Mesopotámië, na die stad van Nahor, getrek.

11. En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ’n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep,

12. en gesê: Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.

13. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep.

14. Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink — dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.

15. Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer.

16. En die dogter was baie mooi van aansien, ’n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom.

17. Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink.

18. En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink.

19. Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.

20. Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop om te skep en vir al sy kamele geskep.

21. En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die Here sy weg voorspoedig gemaak het of nie.

Lees volledige hoofstuk Génesis 24