Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 18:2-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe.

3. En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie.

4. Laat hulle tog ’n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom.

5. En laat ek ’n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart — daarna kan u verder gaan — want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het.

6. Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke.

7. Daarop loop Abraham na die beeste en vang ’n jong, mooi kalf en gee dit aan die dienaar, wat dit gou klaargemaak het.

8. En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het geëet.

9. Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent.

10. En Hy sê: Ek sal oor ’n jaar sekerlik weer na jou toe kom — dan sal jou vrou Sara ’n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was.

11. Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie.

12. En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is?

13. Toe sê die Here vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het?

14. Sou iets vir die Here te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ’n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ’n seun hê.

15. Maar Sara het dit ontken en gesê: Ek het nie gelag nie — want sy was bang. Maar Hy sê: Nee, maar jy het gelag.

16. Toe staan die manne daarvandaan op, en hulle het gekyk na die kant van Sodom; en Abraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring.

17. Daarop sê die Here: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen,

18. terwyl Abraham tog sekerlik ’n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word?

Lees volledige hoofstuk Génesis 18