Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 40:24-38 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Hy het ook die kandelaar in die tent van samekoms gesit, teenoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel.

25. En hy het die lampe opgesteek, voor die aangesig van die Here, soos die Here Moses beveel het.

26. En hy het die goue altaar in die tent van samekoms neergesit, voor die voorhangsel,

27. en reukwerk van speserye daarop aan die brand gesteek, soos die Here Moses beveel het.

28. Hy het ook die bedekking van die ingang van die tabernakel opgehang.

29. En hy het die brandofferaltaar by die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neergesit, en hy het daarop die brandoffer en die spysoffer gebring, soos die Here Moses beveel het.

30. Hy het ook die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar gesit, en hy het daar water in gegooi om mee te was.

31. En Moses en Aäron en sy seuns het daaruit hulle hande en voete gewas.

32. As hulle ingaan in die tent van samekoms of nader kom na die altaar, het hulle hul elke keer gewas, soos die Here Moses beveel het.

33. Hy het ook die voorhof opgerig, rondom die tabernakel en die altaar, en die bedekking vir die poort van die voorhof opgehang. So het Moses dan die werk voltooi.

34. Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die Here het die tabernakel vervul,

35. sodat Moses nie in die tent van samekoms kon ingaan nie, omdat die wolk daarop gerus en die heerlikheid van die Here die tabernakel vervul het.

36. En as die wolk van die tabernakel af optrek, het die kinders van Israel elke keer weggetrek op al hulle togte;

37. maar as die wolk nie optrek nie, dan trek hulle nie weg nie, totdat dit weer optrek.

38. Want die wolk van die Here was bedags op die tabernakel, en vuur was snags daarin, voor die oë van die hele huis van Israel, op al hulle togte.

Lees volledige hoofstuk Exodus 40