Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 4:20-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ’n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.

21. En die Here sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.

22. Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die Here: My eersgebore seun is Israel.

23. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.

24. En op die pad in die herberg het die Here hom teëgekom en wou hom doodmaak.

25. Toe neem Sippóra ’n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ’n bloedbruidegom!

26. En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! — met die oog op die besnydenis.

27. Die Here het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van God aangetref en hom gesoen.

28. Daarop vertel Moses aan Aäron al die woorde van die Here waarmee Hy hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het.

29. En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom;

30. en Aäron het al die woorde gespreek wat die Here aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk.

31. En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die Here op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.

Lees volledige hoofstuk Exodus 4