Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 39:30-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

30. Hulle het ook die plaat van die heilige kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters soos dit op ’n seëlsteen uitgesny word: Heilig aan die Here.

31. En hulle het ’n pers toutjie daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband te bevestig, soos die Here Moses beveel het.

32. So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi; en die kinders van Israel het dit gemaak net soos die Here Moses beveel het; so het hulle dit gemaak.

33. En hulle het die tabernakel na Moses gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy style, sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke,

34. en die dekkleed van rooigeverfde ramsvelle en die dekkleed van robbevelle en die voorhangsel tot bedekking;

35. die ark van die Getuienis met sy draaghoute en die versoendeksel;

36. die tafel met al sy gereedskap en die toonbrode;

37. die suiwer kandelaar met sy lampe, die lampe wat daarop gerangskik moes word, met al sy gereedskap en die olie vir die kandelaar;

38. verder die goue altaar en die salfolie en die reukwerk van speserye en die bedekking vir die ingang van die tent;

39. die koperaltaar en sy kopertraliewerk, sy draaghoute met al sy gereedskap, die waskom en sy voetstuk;

40. die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking vir die poort van die voorhof, die lyne en penne wat daarby behoort, en al die gereedskap vir die diens in die tabernakel van die tent van samekoms;

41. die kunstige klere, om in die heiligdom te dien, die heilige klere van die priester Aäron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien.

42. Net soos die Here Moses beveel het, so het die kinders van Israel die hele werk gemaak.

43. En Moses het die hele werk bekyk — en hulle het dit gemaak soos die Here beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën.

Lees volledige hoofstuk Exodus 39