Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 33:7-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En Moses het elke keer ’n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af; en hy het dit genoem die tent van samekoms. En elkeen wat die Here wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat buitekant die laer was.

8. En as Moses uitgaan na die tent, staan die hele volk op en gaan elkeen aan die ingang van sy tent staan. Dan kyk hulle Moses agterna tot hy in die tent ingegaan het.

9. En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan, en dan spreek Hy met Moses.

10. En as die hele volk die wolkkolom sien staan by die ingang van die tent, staan die hele volk op en buig, elkeen aan die ingang van sy tent.

11. Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos ’n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, ’n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie.

12. Toe het Moses met die Here gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar Ú laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind.

13. As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.

14. En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?

15. Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.

16. Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.

17. Toe sê die Here aan Moses: Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam.

18. Daarop vra hy: Laat my tog u heerlikheid sien.

19. Maar Hy antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die Here uitroep; maar Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.

20. Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.

21. Ook het die Here gesê: Kyk, hier is ’n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan.

22. En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het.

23. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 33