Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 32:16-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer.

17. En toe Josua die stem van die volk hoor hoe hulle juig, sê hy aan Moses: Daar is oorlogsgeraas in die laer.

18. Maar hy antwoord: Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtgesang.

19. En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel.

20. En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink.

21. En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ’n groot sonde oor hulle gebring het?

22. Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is.

23. Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.

24. Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.

25. Toe Moses sien dat die volk bandeloos was — want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders —

26. het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die Here is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.

Lees volledige hoofstuk Exodus 32