Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 3:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb.

2. Daarop verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vuurvlam uit ’n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!

3. En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie.

4. Toe die Here sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek.

5. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond.

6. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.

7. En die Here sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte.

8. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ’n goeie en wye land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.

9. En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.

10. Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.

11. Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?

12. En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ’n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.

Lees volledige hoofstuk Exodus 3