Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 29:2-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. en ongesuurde brood en ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk. Van fyn koringmeel moet jy dit maak.

3. En sit dit in een mandjie, en bring dit aan in die mandjie saam met die bul en die twee ramme.

4. Dan moet jy Aäron en sy seuns laat nader kom na die ingang van die tent van samekoms en hulle met water was.

5. En neem die klere en beklee Aäron met die rok en die mantel van die skouerkleed en die skouerkleed self en die borstas, en bind hom die band van die skouerkleed om.

6. En sit die tulband op sy hoof, en bevestig die heilige kroon aan die tulband.

7. Neem dan die salfolie en giet dit op sy hoof en salf hom.

8. Ook sy seuns moet jy laat nader kom, en laat hulle die rokke aantrek,

9. en omgord hulle met die gordel, Aäron en sy seuns, en bind vir hulle musse om, dat hulle die priesteramp kan besit as ’n ewige insetting. So moet jy dan Aäron en sy seuns as priesters aanstel.

10. En jy moet die bul aanbring voor die tent van samekoms; en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die bul lê.

11. En slag die bul voor die aangesig van die Here by die ingang van die tent van samekoms.

12. Dan moet jy van die bloed van die bul neem en dit met jou vinger aan die horings van die altaar stryk; en al die orige bloed moet jy aan die onderkant van die altaar uitgiet.

13. En neem al die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere en die vet wat daaraan is, en steek dit op die altaar aan die brand.

14. Maar die vleis van die bul en sy vel en sy mis moet jy buitekant die laer met vuur verbrand. Dit is ’n sondoffer.

15. Neem dan die een ram, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;

16. daarna moet jy die ram slag en sy bloed neem en dit rondom teen die altaar uitgooi.

Lees volledige hoofstuk Exodus 29