Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 29:14-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Maar die vleis van die bul en sy vel en sy mis moet jy buitekant die laer met vuur verbrand. Dit is ’n sondoffer.

15. Neem dan die een ram, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;

16. daarna moet jy die ram slag en sy bloed neem en dit rondom teen die altaar uitgooi.

17. En die ram moet jy in sy stukke verdeel, en was sy binnegoed en pote en sit dit by die orige stukke en by die kop.

18. Jy moet dan die hele ram op die altaar aan die brand steek. Dit is ’n brandoffer aan die Here; ’n lieflike geur, ’n vuuroffer is dit aan die Here.

19. Dan moet jy die ander ram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;

20. jy moet dan die ram slag en van sy bloed neem en dit stryk aan die regteroorlel van Aäron en aan die regteroorlel van sy seuns, ook aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet. En die orige bloed moet jy rondom teen die altaar uitgooi.

21. Dan moet jy van die bloed wat aan die altaar is, neem en van die salfolie en dit sprinkel op Aäron en op sy klere sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns saam met hom, dat hy heilig kan wees en sy klere sowel as sy seuns en die klere van sy seuns saam met hom.

22. En neem van die ram die vet en die vetstert, ook die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere met die vet wat daaraan is, en die regterboud — want dit is ’n wydingsram —

23. en een ronde brood en een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met ongesuurde koeke wat voor die aangesig van die Here is.

24. En lê dit alles op die hande van Aäron en op die hande van sy seuns, en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here.

25. Neem dit dan uit hulle hand en steek dit op die altaar aan die brand, bo-op die brandoffer, as lieflike geur voor die aangesig van die Here. Dit is ’n vuuroffer aan die Here.

26. En neem die bors van die wydingsram van Aäron en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here; daarna moet dit jou deel wees.

27. En jy moet die bors van die beweegoffer heilig en die boud van die hefoffer, wat beweeg en gehef is van die wydingsram, wat vir Aäron en sy seuns geld.

28. En dit moet vir Aäron en sy seuns wees tot ’n ewige insetting van die kant van die kinders van Israel, want dit is ’n hefoffer; en dit sal ’n hefoffer wees van die kant van die kinders van Israel, van hulle dankoffers — hulle hefoffer aan die Here.

Lees volledige hoofstuk Exodus 29