Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 25:7-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas.

8. Ook moet hulle vir My ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.

9. Volgens alles wat Ek jou laat sien — die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort — so moet julle dit maak.

10. HULLE moet dan ’n ark van akasiahout maak. Twee en ’n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte wees.

11. En jy moet dit oortrek met suiwer goud, van binne en van buite moet jy dit oortrek. En jy moet daaraan ’n goue krans maak rondom.

12. En giet daarvoor vier goue ringe, en sit dit aan sy vier voete vas, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant is.

13. En maak draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.

14. En steek die draaghoute in die ringe aan weerskante van die ark om die ark daarmee te dra.

15. Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly; hulle mag daar nie uit weggeneem word nie.

16. Daarna moet jy in die ark die Getuienis sit wat Ek aan jou sal gee.

17. Maak ook ’n versoendeksel van suiwer goud. Twee en ’n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte wees.

18. Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel.

19. En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente.

20. En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees.

21. En sit die versoendeksel bo-op die ark; maar in die ark moet jy die Getuienis neerlê wat Ek aan jou sal gee.

22. En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.

Lees volledige hoofstuk Exodus 25