Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 23:14-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Drie maal in die jaar moet jy vir My ’n fees hou.

15. Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek — maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie;

16. verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.

17. Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here Here verskyn.

18. Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood offer nie. Ook mag die vet van my feesoffer nie tot die môre toe oorbly nie.

19. Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die Here jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.

20. Kyk, Ek stuur ’n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.

21. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.

22. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.

23. Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.

24. Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan.

25. En julle moet die Here julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.

26. Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. Ek sal die getal van jou dae vol maak.

27. Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug.

28. Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe.

29. Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie.

30. Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.

31. En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe.

32. Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond maak nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 23