Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 22:4-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. As die gesteelde goed — of dit ’n bees, ’n esel of ’n stuk kleinvee is — nog lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbel vergoeding gee.

5. As iemand ’n stuk veld of ’n wingerd laat afwei en sy vee vry laat loop, sodat dit in die veld van ’n ander wei, moet hy van die beste van sy veld en die beste van sy wingerd as vergoeding gee.

6. As ’n vuur uitbreek en die dorings vat, sodat ’n mied of die ongesnyde graan of die veld verteer word, moet hy wat die vuur aan die brand gesteek het, ten volle vergoeding gee.

7. As iemand aan sy naaste geld of goed in bewaring gee, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief, as hy uitgevind word, dubbel vergoeding gee.

8. As die dief nie uitgevind word nie, moet die eienaar van die huis na die owerhede gaan om te beslis of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie.

9. By alle sake van ontvreemding, of dit gaan oor ’n bees, oor ’n esel, oor kleinvee, oor klere of oor enigiets wat verloor is, waarvan iemand sê: Dit is myne! — moet die saak van altwee voor die owerhede kom; die een wat die owerhede skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbel vergoeding gee.

10. As iemand aan sy naaste ’n esel of bees of stuk kleinvee of enige dier gee om op te pas, en dit gaan dood of kry ’n ongeluk of word weggevoer sonder dat iemand dit sien,

11. dan moet die eed by die Here tussen hulle twee beslis, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie; en die eienaar moet daarmee tevrede wees, en die ander hoef geen vergoeding te gee nie.

12. Maar as dit van hom weggesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee.

13. As dit verskeur is, moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie te vergoed nie.

14. En as iemand van sy naaste iets te leen vra, en dit kry ’n ongeluk of gaan dood terwyl die eienaar daar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee.

Lees volledige hoofstuk Exodus 22