Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 18:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE Jetro, die priester van Mídian, Moses se skoonvader, hoor alles wat God aan Moses en aan sy volk Israel gedoen het — dat die Here Israel uit Egipte uitgelei het —

2. het Jetro, Moses se skoonvader, Sippóra, die vrou van Moses, geneem — nadat hy haar teruggestuur het —

3. en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ’n vreemdeling geword in ’n vreemde land;

4. en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.)

5. En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het.

6. En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar.

7. Daarop gaan Moses uit, sy skoonvader tegemoet, en hy het gebuig en hom gesoen; en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan.

8. Moses vertel toe aan sy skoonvader alles wat die Here aan Farao en aan die Egiptenaars, ter wille van Israel, gedoen het; al die moeilikheid wat hulle op die pad oorgekom het, en dat die Here hulle verlos het.

9. En Jetro het hom verheug oor al die goeie wat die Here aan Israel gedoen het, dat Hy hulle uit die hand van die Egiptenaars verlos het.

10. Daarop sê Jetro: Geseënd is die Here wat julle verlos het uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van Farao, wat die volk onder die hand van die Egiptenaars uit verlos het.

11. Nou weet ek dat die Here groter is as al die gode, naamlik in die saak waarin hulle vermetel was teen hulle.

Lees volledige hoofstuk Exodus 18