Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 12:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die Here het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê:

2. Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.

3. Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ’n lam neem volgens die families, ’n lam vir ’n huisgesin.

4. Maar as ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken.

5. Julle moet ’n lam hê sonder gebrek, ’n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem.

6. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.

7. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.

8. En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.

9. Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed.

10. Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand.

11. En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ’n Pasga van die Here is dit.

Lees volledige hoofstuk Exodus 12