Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 10:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ’n fees vir die Here hou.

10. Toe sê hy vir hulle: Mag die Here só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ’n verkeerde ding voor oë.

11. Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die Here, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe.

12. Toe sê die Here vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vanweë die sprinkane, dat hulle opkom oor Egipteland en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.

13. En Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die Here het ’n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit môre word, het die oostewind die sprinkane aangevoer:

14. die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, ’n baie groot menigte — tevore was daar so ’n sprinkaanswerm nie gewees nie, en daarna sal so iets nie weer voorkom nie.

15. En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het — daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie.

16. Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die Here julle God en teen julle.

17. Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde, en bid tot die Here julle God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem.

18. En hy het van Farao af weggegaan en tot die Here gebid.

19. Daarop laat die Here die wind omslaan in ’n baie sterk westewind; dié het die sprinkane opgetel en hulle in die Skelfsee gedrywe. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Egipte oorgebly nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 10