Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 7:17-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Daarom moet jy sorgvuldig met hierdie geld koop bulle, ramme, lammers met die spysoffers en drankoffers wat daarby behoort, en dit op die altaar van die huis van julle God in Jerusalem offer.

18. En wat jy en jou broers goedvind om met die orige silwer en goud te doen, kan julle doen volgens die wil van julle God.

19. Maar die voorwerpe wat aan jou gegee word vir die diens van die huis van jou God, moet jy aflewer voor die God van Jerusalem.

20. En die ander benodigdhede vir die huis van jou God wat jy sal moet gee, mag jy gee uit die skathuis van die koning.

21. En deur my, koning Artasásta, is bevel gegee aan al die skatmeesters wat wes van die Eufraat is, dat alles wat Esra, die priester, die skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle vra, sorgvuldig gedoen moet word,

22. tot honderd talente silwer en tot honderd kor koring en tot honderd bat wyn en tot honderd bat olie toe en sout sonder beperking.

23. Alles wat volgens die bevel van die God van die hemel is, moet stiptelik uitgevoer word vir die huis van die God van die hemel; want waarom sou daar ’n toorn kom oor die koninkryk van die koning en sy seuns?

24. En ons maak julle bekend dat wat betref al die priesters en Leviete, sangers, poortwagters, tempelbediendes of dienaars van hierdie huis van God, niemand gemagtig is om hulle belasting, opbrings of tol op te lê nie.

25. En jy, Esra, volgens die wysheid van jou God wat jy besit, stel owerhede en regters aan om vir die hele volk wat wes van die Eufraat is, reg te spreek, almal wat die wette van jou God ken; en wie dit nie ken nie, moet julle dit leer.

26. En elkeen wat die wet van jou God en die wet van die koning nie doen nie, teen hom moet geregtelik opgetree word, hetsy ter dood of tot verbanning of geldboete of gevangenisstraf.

27. Geloofd sy die Here, die God van ons vaders, wat so iets in die hart van die koning gegee het, om die huis van die Here wat in Jerusalem is, te versier;

28. en wat my guns laat vind het voor die koning en sy raadsmanne en voor al die magtige vorste van die koning. Toe het ek moed geskep, omdat die hand van die Here my God oor my was, en ek het die hoofde uit Israel versamel om saam met my op te trek.

Lees volledige hoofstuk Esra 7