Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 6:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het koning Daríus bevel gegee, en hulle het nagesoek in die argief waar hulle in Babel die skatte wegbêre.

2. En in Agméta, in die vesting wat in die provinsie Medië lê, is ’n skrifrol gevind, en só was daarin geskrywe: Oorkonde.

3. In die eerste jaar van koning Kores het koning Kores bevel gegee: Die Godshuis in Jerusalem — dié huis moet gebou word as ’n plek waar hulle offers bring, en sy fondamente moet gelê word; sy hoogte moet sestig el, sy breedte sestig el wees;

4. met drie lae groot klippe en een laag nuwe hout; en die onkoste sal deur die huis van die koning gedra word.

5. En ook die goue en silwervoorwerpe van die huis van God wat Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem weggevoer en na Babel gebring het, moet hulle teruggee, dat dit in die tempel in Jerusalem op hulle plek kan kom, en jy moet dit in die Godshuis sit.

6. Tattenai, goewerneur wes van die Eufraat, Setar-Bosenai met hulle partygenote, die Afarsegaïete wes van die Eufraat — julle moet daar nou ver van af bly.

7. Laat die werk aan daardie Godshuis toe; die goewerneur van die Jode en die oudstes van die Jode mag daardie huis van God op sy plek bou.

8. En deur my word bevel gegee hoe julle met hierdie oudstes van die Jode moet handel om daardie huis van God te bou, naamlik: Uit die inkomste van die koning, uit die belasting van die westelike gebied van die Eufraat moet die onkoste aan daardie manne sorgvuldig vergoed word sonder vertraging.

9. En wat nodig is, jong bulle sowel as ramme en lammers vir brandoffers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie moet aan hulle volgens opgawe van die priesters in Jerusalem sonder versuim dag vir dag gelewer word,

10. dat hulle welgevallige offers kan bring aan die God van die hemel en kan bid vir die lewe van die koning en van sy seuns.

Lees volledige hoofstuk Esra 6