Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4:2-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. het hulle aangekom na Serubbábel en na die familiehoofde en aan hulle gesê: Laat ons saam met julle bou, want net soos julle soek ons julle God, en aan Hom offer ons van die dae van Esar-Haddon af, die koning van Assirië, wat ons hierheen laat optrek het.

3. Maar Serubbábel en Jésua en die ander familiehoofde van Israel het aan hulle gesê: Dit sal nie gaan dat julle saam met ons ’n huis vir onse God bou nie, maar óns alleen sal vir die Here, die God van Israel, dit bou soos koning Kores, die koning van Persië, ons beveel het.

4. Toe het die volk van die land die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie.

5. En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel al die dae van Kores, die koning van Persië, tot op die regering van Daríus, die koning van Persië.

6. En onder die regering van Ahasvéros, in die begin van sy regering, het hulle ’n aanklag geskrywe teen die inwoners van Juda en Jerusalem.

7. En in die dae van Artasásta het Bislam, Mítredat, Tábeël en sy ander partygenote aan Artasásta, die koning van Persië, geskrywe; en die skrif van die brief was Aramees geskrywe en in Aramees vertaal.

8. Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, het ’n brief geskrywe teen Jerusalem aan Artasásta, die koning, van die volgende inhoud:

9. Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, en hulle ander partygenote, die Dinaïete, die Afarsatgiete, die Tarpeliete, die Afarsiete, die Arkewiete, die Babiloniërs, die Susangiete, naamlik die Elamiete,

10. en die ander volke wat die groot en beroemde Asnappar weggevoer en in die stad Samaría en die orige gebied wes van die Eufraat laat woon het. En nou —

11. dit is ’n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: Aan koning Artasásta, u dienaars, die manne wes van die Eufraat. En nou —

12. aan die koning word bekend gemaak dat die Jode wat van u af na ons opgetrek het, in Jerusalem aangekom het. Hulle is besig om die rebelse en slegte stad op te bou: die mure voltooi hulle en die fondamente herstel hulle.

13. Laat dit nou aan die koning bekend wees dat hulle, as dié stad opgebou en die mure voltooi is, geen belasting, opbrings of tol sal gee nie — wat aan die inkomste van die konings skade sal doen.

14. Aangesien ons nou die sout van die paleis geëet het en dit ons nie pas om die smaad van die koning aan te sien nie, daarom stuur ons en laat die koning weet,

15. dat hulle kan nasoek in die kroniekboek van u vaders; dan sal u in die kroniekboek vind en daaruit verneem dat dié stad ’n rebelse stad was wat aan konings en provinsies skade gedoen het, en dat hulle van ouds af daarin oproer verwek het; daarom is dié stad verwoes.

Lees volledige hoofstuk Esra 4