Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4:15-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. dat hulle kan nasoek in die kroniekboek van u vaders; dan sal u in die kroniekboek vind en daaruit verneem dat dié stad ’n rebelse stad was wat aan konings en provinsies skade gedoen het, en dat hulle van ouds af daarin oproer verwek het; daarom is dié stad verwoes.

16. Ons maak die koning bekend dat, as dié stad opgebou en die mure voltooi word, u daardeur geen deel sal hê wes van die Eufraat nie.

17. Die koning het as antwoord gestuur: Aan Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, en hulle ander partygenote wat in Samaría en in die orige gebied wes van die Eufraat woon: Heil! En nou —

18. die brief wat julle aan ons gestuur het, is aan my in vertaling voorgelees.

19. En deur my is bevel gegee, en hulle het gesoek en gevind dat dié stad van ouds af hom teen konings versit, en dat rebellie en oproer daarin verwek is.

20. En magtige konings was daar oor Jerusalem wat geheers het oor die hele gebied wes van die Eufraat, en belasting, opbrings en tol is aan hulle gegee.

21. Gee nou bevel dat dié manne moet ophou en hierdie stad nie opgebou mag word totdat deur my bevel gegee sal word nie.

22. En wees gewaarsku om hierin geen nalatigheid te begaan nie, dat daar nie groter skade tot nadeel van die konings ontstaan nie.

23. Net toe die afskrif van die brief van Artasásta, die koning, aan Rehum en Simsai, die skrywer, en hulle partygenote voorgelees is, het hulle haastig na Jerusalem, na die Jode gegaan en hulle met geweld en mag laat ophou.

24. Toe het die werk aan die huis van God wat in Jerusalem is, opgehou; en dit is gestaak tot op die tweede jaar van die regering van Daríus, die koning van Persië.

Lees volledige hoofstuk Esra 4