Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 47:6-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom.

7. Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ’n menigte bome gesien, aan altwee kante.

8. En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word.

9. En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ’n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom.

10. Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by En-Eglaim: ’n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, ’n menigte.

11. Die moerasse en kuile daarvan — húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem.

12. En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan — uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.

13. SO sê die Here Here: Dit moet die grondgebied wees waarin julle die land as erfdeel sal verwerf volgens die twaalf stamme van Israel — vir Josef twee dele.

14. En julle moet dit erwe, die een soos die ander, omdat Ek my hand opgehef het om dit aan julle vaders te gee; en hierdie land moet julle as erfenis toeval.

15. En dit moet die grens van die land wees: aan die noordekant van die Groot See af, langs die weg van Hetlon, tot by die ingang na Sedad toe:

16. Hamat, Berota, Sibraim, wat tussen die gebied van Damaskus en die gebied van Hamat lê, die middelste Haser, wat op die grens van Hauran is.

17. So moet dan die grens van die See af wees tot by Hasar-Enon, die gebied van Damaskus, en wat die noorde betref noordwaarts, is Hamat die grens; dit is die noordekant.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 47