Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 43:17-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En die omlysting: veertien el lengte by veertien el breedte na sy vier kante toe; en die opstaande rand daar rondom: ’n half-el; en die voetlaag daaraan: ’n el rondom; en sy trappe het oos gekyk.

18. En hy het vir my gesê: Mensekind, so spreek die Here Here: Dit is die verordeninge van die altaar: Op die dag as dit gemaak word om brandoffers daarop te bring en om bloed daarteen uit te gooi,

19. moet jy aan die Levitiese priesters wat uit die geslag van Sadok is, wat na My mag nader kom — spreek die Here Here — om My te dien, ’n jong bul gee as sondoffer.

20. En jy moet van sy bloed neem en dit stryk aan die vier horings daarvan en aan die vier hoeke van die omlysting en aan die opstaande rand rondom; so moet jy dit dan ontsondig en versoening daarvoor bewerk.

21. Dan moet jy die sondofferbul neem, en hulle moet hom verbrand in die daarvoor bestemde plek van die huis, buitekant die heiligdom.

22. En op die tweede dag moet jy ’n bokram sonder gebrek as sondoffer bring; en hulle moet die altaar ontsondig soos hulle dit met die bul ontsondig het.

23. As jy klaar is met die ontsondiging, moet jy ’n jong bul sonder gebrek en ’n ram sonder gebrek uit die kleinvee bring.

24. En jy moet hulle bring voor die aangesig van die Here; en die priesters moet sout daarop strooi en dit as brandoffer aan die Here bring.

25. Sewe dae lank moet jy daagliks die sondofferbok gereedmaak; ook moet hulle ’n jong bul en ’n ram uit die kleinvee, altwee sonder gebrek, berei.

26. Sewe dae lank moet hulle vir die altaar versoening bewerk en dit reinig en dit inwy.

27. En hulle moet die dae voleindig; dan moet die priesters op die agtste dag en verder julle brandoffers en julle dankoffers op die altaar berei; en Ek sal ’n behae in julle hê, spreek die Here Here.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 43