Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 43:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk.

2. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid.

3. En die gesig wat ek gesien het, het gelyk soos die gesig wat ek gesien het by my koms om die stad te verwoes; en dit was gesigte soos die gesig wat ek gesien het by die Kebarrivier; en ek het op my aangesig geval.

4. En die heerlikheid van die Here het in die huis ingetrek deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê.

5. En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die Here het die huis vervul.

6. En ek het Een gehoor wat met my spreek uit die huis, terwyl die man by my staan.

7. En Hy het vir my gesê: Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek vir ewig sal woon onder die kinders van Israel; en die huis van Israel sal my heilige Naam nie meer verontreinig nie, hulle en hulle konings met hulle hoerery en met die lyke van hulle konings, by hulle dood;

8. deurdat hulle hul drumpel by my drumpel gemaak het en hul deurpos langs my deurpos, sodat net die muur tussen My en hulle was; en hulle het my heilige Naam verontreinig met hulle gruwels wat hulle bedryf het, sodat Ek hulle in my toorn verteer het.

9. Nou sal hulle hul hoerery en die lyke van hul konings ver van My af verwyder; en Ek sal vir ewig onder hulle woon.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 43