Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 37:16-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En jy, mensekind, neem vir jou ’n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem ’n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote.

17. Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand.

18. En as die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Sal u ons nie te kenne gee wat u met hierdie dinge bedoel nie?

19. sê dan vir hulle: So spreek die Here Here: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand.

20. So moet dan die houte waar jy op skrywe, in jou hand wees voor hulle oë;

21. en sê vir hulle: So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land.

22. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie.

23. En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ’n volk wees, en Ek vir hulle ’n God wees.

24. En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel.

25. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig.

26. En Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ’n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig.

27. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees en hulle vir my ’n volk wees.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 37