Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 23:21-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. En jy het na die skandelike daad van jou jeug verlang, toe dié van Egipte jou boesem gedruk het om jou jeugdige borste ontwil.

22. Daarom, o Ohóliba, so sê die Here Here: Kyk, Ek verwek jou minnaars, van wie jou siel vervreemd geraak het, teen jou, en Ek sal hulle van alle kante teen jou aanbring:

23. die kinders van Babel en al die Chaldeërs, Pekod en Soa en Koa, al die kinders van Assur saam met hulle, begeerlike jongmanne wat almal goewerneurs en owerstes is, offisiere en aansienlike mense wat almal te perd ry.

24. En hulle sal teen jou kom met ’n hoop strydwaens en wiele en met ’n menigte van volke; groot skild en klein skild en helm sal hulle rondom teen jou rig; en Ek sal die strafgerig aan hulle oorgee, en hulle sal jou vonnis volgens hulle reg.

25. En Ek sal my ywer teen jou rig, dat hulle in grimmigheid met jou handel: hulle sal jou neus en jou ore afsny, en die wat van jou oorbly, sal deur die swaard val; hulle sal jou seuns en jou dogters wegneem, en wat van jou oorbly, sal deur vuur verteer word.

26. Hulle sal jou ook jou klere uittrek en jou versiersels wegneem.

27. So sal Ek dan by jou ’n einde maak aan jou skandelike dade en jou hoerery, uit Egipteland afkomstig; en jy sal jou oë nie na hulle opslaan en aan Egipte nie meer dink nie.

28. Want so sê die Here Here: Kyk, Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle van wie jou siel vervreemd geraak het.

29. En hulle sal jou as vyand behandel en al jou goed wegneem en jou naak en bloot laat staan, sodat jou ontugtige skaamte ontbloot kan word. Ja, jou skandelike dade en jou hoererye

30. het jou dit aangedoen deurdat jy agter nasies aan gehoereer het en omdat jy met hulle drekgode verontreinig is.

31. In die weg van jou suster het jy gewandel; daarom sal Ek haar beker in jou hand gee.

32. So sê die Here Here: Jy sal die beker van jou suster drink wat diep en wyd is — jy sal tot ’n belagging en ’n spot word — die beker wat so baie bevat.

33. Van dronkenskap en kommer sal jy vol word; die beker van jou suster Samaría is ’n beker van huiwering en ontsetting.

34. En jy sal dit drink en uitsuig en aan sy skerwe knaag en jou borste oopskeur; want Ek het dit gespreek, spreek die Here Here.

35. Daarom, so sê die Here Here: Omdat jy My vergeet het en My agter jou rug gewerp het, so dra jy dan ook nou jou skandelike dade en jou hoererye.

36. En die Here het vir my gesê: Mensekind, wil jy Ohóla en Ohóliba oordeel? Maak hulle dan hul gruwels bekend.

37. Want hulle het owerspel begaan, en daar is bloed aan hulle hande: met hul drekgode het hulle owerspel begaan en ook hul seuns wat hulle vir My gebaar het, as spys vir hulle deur die vuur laat deurgaan.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 23