Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 23:17-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Daarop kom die kinders van Babel by haar, na die bed van liefde, en verontreinig haar met hulle hoerery, en sy het onrein geword deur hulle; daarna het haar siel van hulle vervreemd geraak.

18. En toe sy haar hoererye geopenbaar en haar skaamte ontbloot het, het my siel van haar vervreemd geraak, soos my siel vervreemd geraak het van haar suster.

19. Ja, sy het haar hoererye baie gemaak deur te dink aan die dae van haar jeug toe sy ’n hoer was in Egipteland.

20. En sy het gesmag na hulle wellustelinge, wat sinlik soos esels en onstuimig van drif was soos perde.

21. En jy het na die skandelike daad van jou jeug verlang, toe dié van Egipte jou boesem gedruk het om jou jeugdige borste ontwil.

22. Daarom, o Ohóliba, so sê die Here Here: Kyk, Ek verwek jou minnaars, van wie jou siel vervreemd geraak het, teen jou, en Ek sal hulle van alle kante teen jou aanbring:

23. die kinders van Babel en al die Chaldeërs, Pekod en Soa en Koa, al die kinders van Assur saam met hulle, begeerlike jongmanne wat almal goewerneurs en owerstes is, offisiere en aansienlike mense wat almal te perd ry.

24. En hulle sal teen jou kom met ’n hoop strydwaens en wiele en met ’n menigte van volke; groot skild en klein skild en helm sal hulle rondom teen jou rig; en Ek sal die strafgerig aan hulle oorgee, en hulle sal jou vonnis volgens hulle reg.

25. En Ek sal my ywer teen jou rig, dat hulle in grimmigheid met jou handel: hulle sal jou neus en jou ore afsny, en die wat van jou oorbly, sal deur die swaard val; hulle sal jou seuns en jou dogters wegneem, en wat van jou oorbly, sal deur vuur verteer word.

26. Hulle sal jou ook jou klere uittrek en jou versiersels wegneem.

27. So sal Ek dan by jou ’n einde maak aan jou skandelike dade en jou hoerery, uit Egipteland afkomstig; en jy sal jou oë nie na hulle opslaan en aan Egipte nie meer dink nie.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 23