Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 20:26-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die Here is.

27. Daarom, mensekind, spreek met die huis van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here Here: Verder het julle vaders My in hierdie saak smaadheid aangedoen, dat hulle troubreuk teen My begaan het:

28. toe Ek hulle in die land gebring het waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee, het hulle uitgekyk na al die hoë heuwels en al die digte bome, en hulle het daar hul offers geslag en daar hul aanstootlike offergawe gegee en daar hul lieflike offergeur gebring en daar hul drankoffers uitgegiet.

29. Toe het Ek aan hulle gesê: Wat is dit vir ’n hoogte waarheen julle gaan? En hulle het dit Hoogte genoem tot vandag toe.

30. Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here Here: Wat? Julle is verontreinig in die weg van julle vaders, en julle hoereer agter hulle verfoeisels aan;

31. ja, deur die aanbieding van julle offergawes, deur julle seuns deur die vuur te laat gaan, is julle verontreinig met al jul drekgode tot vandag toe — en sou Ek My deur julle laat raadpleeg, o huis van Israel? So waar as Ek leef, spreek die Here Here, Ek laat My deur julle nie raadpleeg nie!

32. En wat in julle gees opgeklim het, sal sekerlik nie gebeur nie — dat julle sê: Ons wil soos die nasies, soos die geslagte van die lande wees, deur hout en klip te dien.

33. So waar as Ek leef, spreek die Here Here, Ek sal gewis met ’n sterke hand en met ’n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer.

34. En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ’n sterke hand en deur ’n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid.

35. En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig.

36. Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here Here.

37. En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond.

38. En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die Here is.

39. Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here Here: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode; maar hierná — sekerlik sal julle na My luister en my heilige Naam nie meer ontheilig met julle offergawes en julle drekgode nie.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 20