Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 16:5-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Geen oog het medelyde met jou gehad om vir jou een van hierdie dinge te doen, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is.

6. En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!

7. Ontelbaar, soos die uitspruitsels van die veld, het Ek jou gemaak! En jy het gegroei en groot geword en die hoogste bloei bereik; jou borste het styf geword, en jou hare het gegroei, maar jy was naak en bloot.

8. En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou ’n verbond aangegaan, spreek die Here Here, en jy het myne geword.

9. Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf.

10. Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy.

11. Verder het Ek jou met sierade versier en armbande aan jou hande gesit en ’n ketting om jou hals.

12. En Ek het ’n ring aan jou neus gesit en oorringe aan jou ore en ’n pragtige kroon op jou hoof.

13. Ja, jy het jou versier met goud en silwer, en jou klere was fyn linne en sy en veelkleurige stowwe; jy het fynmeel en heuning en olie geëet, en jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het.

14. Daarby het daar ’n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here Here.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 16