Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 1:2-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Op die vyfde van die maand — dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin —

3. het die woord van die Here uitdruklik gekom tot Eségiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die Here was daar op hom.

4. Toe het ek gekyk — en daar het ’n stormwind uit die noorde gekom, ’n groot wolk met onophoudelike vuur; en ’n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.

5. En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dít was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ’n mens gehad;

6. en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke;

7. en hulle bene was reguit bene en hulle voetsole soos die sole van ’n kalfspoot; en hulle het geglinster soos blink geskuurde koper;

8. en mensehande was onder hulle vlerke aan hulle vier kante. Maar aangaande die aangesigte en die vlerke van al vier,

9. hulle vlerke was aanmekaar verbind. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan.

10. En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van ’n mens; en al vier het die gesig van ’n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van ’n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van ’n arend gehad.

11. En hulle vlerke het uitgesprei na boontoe; elkeen het twee gehad wat met mekaar verbind was, en twee wat hulle liggame bedek het.

12. En hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan; waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan; hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie.

13. Aangaande die gestalte van die wesens: hulle voorkoms was soos gloeiende vuurkole, soos die voorkoms van fakkels; die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens, en die vuur het ’n helder glans gehad, en uit die vuur het blitse uitgeslaan.

14. En die wesens het heen en weer gesnel, in aansien soos ’n bliksemstraal.

15. Ek het toe die wesens nader bekyk: daar was een wiel op die grond langs die wesens aan elkeen van die vier voorkante.

16. Die voorkoms van die wiele en hulle maaksel was soos dié van ’n chrisoliet; en al vier het dieselfde vorm gehad; daarby was hulle voorkoms en hulle maaksel asof daar ’n wiel binne-in ’n wiel was.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 1