Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 7:16-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En jy sal al die volke verteer wat die Here jou God aan jou oorgee; jou oog mag hulle nie verskoon nie, en jy mag hulle gode nie dien nie; want dit sal vir jou ’n strik wees.

17. As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? —

18. wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die Here jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het,

19. die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die Here jou God jou uitgelei het; so sal die Here jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is.

20. En die Here jou God sal ook die perdebye onder hulle stuur totdat hulle omkom wat oorgebly het en wat vir jou weggekruip het.

21. Skrik nie vir hulle nie, want die Here jou God is by jou, ’n groot en gedugte God.

22. En die Here jou God sal hierdie nasies so langsamerhand voor jou uit verjaag; jy mag hulle nie gou vernietig nie, dat die ongediertes nie teen jou die oorhand kry nie.

23. Maar die Here jou God sal hulle aan jou oorgee en hulle in groot verwarring bring totdat hulle verdelg word.

24. Ook sal Hy hulle konings in jou hand gee, dat jy hulle naam onder die hemel kan laat verdwyn; niemand sal teen jou standhou totdat jy hulle verdelg het nie.

25. Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die Here jou God ’n gruwel.

26. En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ’n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 7