Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 7:1-7 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. AS die Here jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy;

2. en die Here jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie.

3. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie — jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie;

4. want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die Here teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.

5. Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.

6. Want jy is ’n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.

7. Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 7