Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 7:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. AS die Here jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy;

2. en die Here jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie.

3. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie — jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie;

4. want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die Here teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.

5. Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.

6. Want jy is ’n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.

7. Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.

8. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die Here julle met ’n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.

9. Jy moet dan weet dat die Here jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.

10. Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te vernietig; Hy sal met sy hater nie versuim nie, hom persoonlik sal Hy dit vergelde.

11. Hou dan die gebod en die insettinge en die verordeninge wat ek jou vandag beveel om dit te volbring.

12. En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die Here jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het;

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 7