Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 4:31-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

31. Want die Here jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.

32. Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is.

33. Het ’n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het, en in die lewe gebly?

34. Of het ’n god probeer om vir hom ’n nasie uit ’n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die Here julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?

35. Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die Here God is; daar is geen ander buiten Hom nie.

36. Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor.

37. En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het, en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het,

38. om nasies groter en magtiger as jy voor jou uit te verdrywe en jou in te bring om hulle land aan jou as erfenis te gee soos dit vandag is —

39. daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die Here God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.

40. En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed mag gaan, en dat jy die dae mag verleng in die land wat die Here jou God jou vir altyd sal gee.

41. TOE het Moses drie stede afgesonder oos van die Jordaan, teen sonop,

42. sodat hy wat ’n doodslag begaan het, daarheen kon vlug, wat sy naaste sonder opset doodgeslaan het, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie; sodat hy in een van hierdie stede kan vlug en in die lewe bly.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 4