Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 4:22-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Want ek sal in hierdie land sterwe, ek sal oor die Jordaan nie gaan nie; maar julle sal oorgaan en daardie goeie land in besit neem.

23. Neem julle in ag dat julle die verbond van die Here julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie — ’n gelykenis van enigiets wat die Here jou God jou verbied het.

24. Want die Here jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God.

25. As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ’n gesnede beeld maak, ’n gelykenis van enigiets, en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God om Hom te terg,

26. dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word.

27. En die Here sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die Here julle sal drywe.

28. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie.

29. Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.

30. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister.

31. Want die Here jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.

32. Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is.

33. Het ’n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het, en in die lewe gebly?

34. Of het ’n god probeer om vir hom ’n nasie uit ’n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die Here julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?

35. Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die Here God is; daar is geen ander buiten Hom nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 4